Sektorale vasstellings

Sektorale vasstellings
André Claassen
Wat presies is ‘n sektorale vassteling? ‘n Sektorale vasstelling reguleer die Basiese Diensvoorwaardes binne spesifieke bedrywe.
Daar is verskillende vasstellings vir verskillende bedrywe onder andere sektorale vasstellings vir kontrak skoonmaak dienste, private sekuriteit, bosbedryf, huiswerkers, plaaswerkers, groot en kleinhandel sektor ensovoorts.
Die aspekte wat deur die sektorale vasstelling gereguleer word sluit in werkure, oortyd, die betaling van oortyd, werk op Sondae en publieke vakansie dae, etenstye, verlof, siekte verlof, verlof vir gesinsverantwoordelikheid, kraamverlof, kennis tydperke by diensbeëindiging, betaling by diensbeëindiging ensovoorts.
Sektorale vasstellings kan ten opsigte van die betrokke sektore ook werkgewers onder andere verplig om rekords aan hulle werknemers te verskaf, die betaling van reis- en werkverwante toelaes reël, minimum diensvoorwaardes vir ander persone as werknemers spesifiseer, enige aangeleentheid rakende vergoeding of ander bedinge of voorwaardes reël.
Sektorale vasstellings reguleer onder andere minimum lone in die spesifieke bedrywe en maak voorsiening vir verskillende minimum lone vir verkillende areas soos stedelike en landelike gebiede. (NB. Wet op Nasionale Minimum Loon Wet 9/2018 skryf minimum lone voor en word elke jaar opgedateer. Minimum lone word nie meer per sektorale vasstelling afsonderlik gepubliseer nie.)
Sekere vasstellings verskaf voorbeelde van dienskontrakte, salaris strokies asook posbeskrywing terwyl riglyne gegee word in terme van verlof, siekteverlof en verlof vir gesinsverantwoordelikheid.
Ingevolge wetgewing moet alle werkgewers op wie sektorale vasstellings bindend is in besit van die relevante dokument wees.
Sektorale vasstellings kan verkry word van die Departement van Arbeid.








